Ons eerste besoek aan Orania

Agt jaar gelede het ons vir die eerste keer gehoor van die dorpie met die naam Orania. Dit het wonderlik en als geklink, maar kon dit werk? Kon dit groei? Kon dit ‘n werklikheid word?

Op daai stadium het die idee wonderlik geklink, maar die realiteit was dat ons nog nie gereed was nie. Ons was nog baie vasgevang in ons gemak en gerief en moes nog bietjie meer lewenswys word.

Soos wat die jare verby ons beweeg het, het ons pragtige land al hoe meer agteruit begin gaan en ons hoop in ons land se toekoms het ook gesak. Maar Orania, aan die anderkant het net gegroei en verbeter. Daar word hoop geskep.

Daar was natuurlik altyd die opsie om land uit te gaan, maar ons harte lê hier, ons is hier gebôre en hier gegrond. Ons harte is vir volk, land, taal en kultuur. Maar daar is min hoop vir ons oor, behalwe in Orania.

So het ons toe nou besluit om finaal die avontuur na die woestyn aan te pak. Ons jongste was nog maar ‘n baba en oudste skaars ses. Ons het navraag gedoen oor wat benodig word om aansoek te doen en so begin ons met die proses. Dit het ‘n tydjie geneem om al die benodige papierwerk agtermekaar te kry, en so het ons alles agtermekaar gekry en ‘n datum ontvang vir ‘n verblyfsreg onderhoud.

In Oktober van 2018 vertrek ons op vakansie na Orania toe vir die eerste keer. Nou dit was avontuur opsigself. 1000km met vier meisie kindertjies is nie speletjies nie, na baie stoppe en 14 ure later arriveer ons in Orania.

My man se eerste woorde toe ons in die dorp in ry was, “Dit voel of ons terug in tyd gegaan het.” Pragtige bome langs die pad, kort of geen heinings, kinders op fietse en almal groet met ‘n glimlag en ‘n waai van die hand. Daar was ‘n ongelooflik rustige gevoel en kamlte wat oor jou kom as jy die dorp vir die eerste maal sien.

Ons het gekamp by Aan-die-oewer en was met vriendelikheid ontvang. Die kamp terrein was gepak met mense en die rivier was pragtig. My kinders kon nie wag om hul fietse te gryp en te verken nie.

Vroeg die volgende dag het ons die dorp aangepak en was verbaas om te sien hoe groot die dorp eintlik is. Alhoewel mense baie hard werk, was almal vrolik. Oral waar ons gestop het, het ons vasgehaak vir ten minste ‘n uur of twee. Almal is so vriendelik en gesellig. Orania en sy mense het baie vinnig diep in ons harte ingekruip.

Ons wou natuurlik soveel moontlik elke dag inneem en met soveel mense moontlik praat om te sien of die ‘n plek is waar ons vier dogters sou wou groot maak. Alles is tog vir hulle.

Die Donderdag was ons onderhoud waarop ons ‘n paar vrae moes antwoord en ook deel wie ons is, waar ons vandaan kom en wat ons doen. Dit alleen was ‘n goeie ervaring en het my laat besef hoe eg en sterk Orania in sy doel gerig is. Orania is nie net ‘n dorp nie, maar ook ‘n manier van lewe en dink. Dis nie ‘n besluit wat ligtelik geneem word nie. Dit is harde werk, maar as jy dit aanpak met die regte hart en denke kan dit net wonderlik wees.

Die Vrydag en Saterdag was ons oriëntering. Elke liewe vraag wat jy oor Orania kan hê word daar beantwoord. Dit was die mees interessante praatjie wat ek nog bygewoon het. Dit was ook die hoogtepunt van Orania vir my, want dis waar jy eintlik leer en besef wat is Orania.

Die Sondag het ons kuiertjie op ‘n einde gekom en moes ons die lang rit terug huis toe aanpak, maar Orania het ons nie verlaat nie. Ons is tog mos nou Oraniërs, nie meer net in hart nie, maar ook nou op papier.

As jy eers Orania besoek het, wees gewaarsku dat Orania by jou gaan bly.

Groete

Semco Mama

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *